WEB MAAK STUDIE MAKLIK – ClickKliek – Bloemnuus

WANNEER ek om my kyk, lyk dit asof die navorsing- en studeergogga almal begin byt.

Die soeke na meer kennis is seker een van die basiese behoeftes van die mens en ek bevind myself weer aan die begin van verdere studie. Ek werk aan die opstel en afronding van ’n protokol. So 10 of 20 jaar gelede sou dit beteken het ek moes van die een biblioteek na ’n ander ry en deur die bronne werk. Ek sou dalk notas gemaak het en indien ek iets van waarde gekry het, sou ek dadelik die boek bespreek of geleen het. Dan sou ek die boeke huis toe gesleep het om dalk ’n paragraaf of twee aan te haal of te gebruik.

Dinge het egter verander en ek sit basies voor my rekenaar en soek bronne, lees en verwerk dit en maak seker dit is van akademiese waarde en gehalte.

Die probleem is dit is moeilik om vandag, waar enigiemand enigiets op die web kan plaas, te weet wat van waarde is en wat nie.

Ons is gelukkig dat die meeste akademiese joernale nou hul artikels ook aanlyn deur vele akademiese databasisse beskikbaar maak.

Die voordeel hiervan is indien jy ’n soekenjin soos Google Scholar gebruik jy redelik seker kan wees van die gehalte van die artikels.

Jy kan toegang tot Google Scholar by http://scholar.google.com kry. Daar is ’n aantal artikels wat net toeganklik is wanneer jy betaal, maar indien jy aan een van die tersiêre instellings studeer, behoort jy maklik toegang daartoe te kan bekom.

Onthou ook om vir jouself die lewe makliker te maak deur al die artikels netjies in ’n lêer (folder) op jou rekenaar te stoor. Elke navorser weet jy gaan in die een of ander sta-dium weer na ’n bron soek en indien jy nie al jou bronne mooi bymekaarhou nie, gaan jy later hard soek.

Studeer jy verder? Skryf jy aan ’n akademiese artikel? Laat weet my.