Watter foon is die beste?

DIT is amper tyd vir my om weer vir ’n nuwe selfoon navorsing te begin doen. Vanjaar gaan ek natuurlik nie net ’n nuwe foon kry nie, maar ek gaan beslis ná 14 jaar by my diensverskaffer na ’n nuwe diensverskaffer kyk.

Die hartseer deel is dit is alles maar net kosmeties, want ek weet ek sal seker by ’n ander verskaffer ook probleme hê. Die skuif is eers in Augustus wanneer my kontrak eindig, maar ek begin nou al kyk. Ek verseker julle ek sal in daardie stadium die hele proses met julle deel en ook die aanbiedinge wat beskikbaar is, evalueer en daaroor skryf. Ek gaan ook sommer heelwat terugvoer gee oor die redes hoekom ek van my verskaffer weggaan.

Dit daar gelaat. Vir eers wil ek vandag met julle nuwe verwikkelinge in die selfoonmark deel.

Maandagaand het Steve Jobs die nuwe iPhone bekend gestel en ek moet sê, ek hou werklik baie van die nuwe ontwerp. Die foon kom stewiger voor en nou is daar ook ’n kamera sodat jy video-oproepe kan maak. Hierdie is een van die fone wat ek sterk oorweeg.

Daar is natuurlik vandag so ’n groot aantal smart phones in die mark dat dit ’n baie moeilike besluit gaan wees en dus wil ek julle vra om vir my te laat weet watter foon julle dink die beste in die mark is. Ek het twee jaar gelede dieselfde versoek gehad en die raad wat ek gekry het, het my baie gehelp om ’n goeie besluit te neem. Soos Steven Downes sê: “I store my knowledge in my friends.”

Laat weet my dus asseblief wat jy dink.

Indien jy deel van ’n maatskappy is wat ’n goeie aanbod het, laat weet my ook gerus. Ek sal die beste aanbiedings op www.clickkliek.com lys soos ek dit ontvang.