TWITTER: NET ’N GERAAS? EdenExpress – JuicyBrain

Waar verkeer jy sosiaal op die web? Is jy op Facebook, Twitter, App.net, Google Plus, YouTube, LinkedIn, Friendfeed of een van die honderde ander sosiale netwerke wat vandag beskikbaar is?

Dit is deesdae baie moeilik om te weet waar om te fokus. Indien jy aan meer as een netwerk behoort, is dit maklik vir jou om programmetjies te gebruik om jou boodskappe op meer as een te pos, maar dan verloor jy ’n mate van interaksie met jou “vriende” en “volgelinge”. Om ’n groot netwerk te bou is nie so moeilik as jy iets het om te sê nie, maar indien jy werklik interaksie wil stimuleer, sal jy ‘n netwerk moet kies waar jy jou fokus plaas.

Ek het oral profiele, op al wat ’n netwerk is, maar ek het gevind dat Twitter nie veel meer as ’n klomp geraas is nie. Jy skree na die wêreld en hopelik luister iemand en skree terug, maar dit kan verlore gaan tussen al die geraas. Facebook is vir my ’n plek waar ek elke nou en dan kan gaan kyk wat my vriende aanvang en dit het ’n goeie netwerk geword om met jou direkte vriende kontak te hou. ’n Wonderlike netwerk vir jou professionele profiel is LinkedIn en ek kan dit sterk aanbeveel.

Ek begin ook hou van Google Plus en kry so ’n gevoel dat ons nog wonderlike dinge van dié netwerk sal sien.

’n Nuwe alternatief tot Twitter is nou beskikbaar en hierdie week het ek aangesluit om te sien wat dit bied. Besoek www.app.net. Twitter het vir baie mense ’n geraas geword en app.net is ’n betaalopsie; dus beperk dit die geraas. Ek sal in ’n volgende rubriek oor ’n maand of twee skryf oor my ervaringe met app.net.