Kies só wat jy wil eet

Nico Baird
HOEVEEL keer het dit al met jou gebeur dat jy by ’n nuwe restaurant kom, na die spyskaart kyk en wonder of dit wat jy gaan bestel werklik die moeite werd gaan wees? Deesdae gaan die pryse op en die porsies krimp.
Sou dinge nie makliker gewees het as daar ’n webblad of iets was waar jy kon gaan kyk na wat elke restaurant jou bied nie? Of sou dit nie wonderlik gewees het as jy op jou telefoon kon gaan kyk wat lekker is in jou omgewing nie?
Ek het reeds aan die einde van 2010 ’n wonderlike programmetjie op my telefoon afgelaai wat juis dit doen. Foodspotting (www.foodspotting.com) is ’n wonderlike nuwe webblad en ook program op die iPhone- en ook Android-telefone wat die lewe sommer lekker maak en jou die kans bied om nuwe geregte te probeer sonder om te moet raai.
Dié programmetjie (of app) is gratis om af te laai en te gebruik. Hier is wat gebeur. Almal wat dit gebruik, bou saam aan ’n wonderlike databasis van foto’s van geregte wat beskikbaar is. Jy gaan na jou gunsteling-restaurant en bestel jou gunsteling-geregte, jy neem dit af en sê wat jy daarvan dink. Dit word op die webblad gelys.
Nou kan enigiemand wat iewers iets soek om te eet op die web of op hul telefoon gaan kyk wat is lekker in die omgewing.
Sluit jou vandag aan en help bou aan die databasis. Dit is werklik pret om deel te neem en onthou, jy kan afneem en by die huis gaan oplaai as jy nie ’n telefoon het wat die programmetjie kan laat werk nie.
Gaan kyk ’n bietjie wat ek die afgelope twee maande in Bloemfontein geniet het.