Inhuldigingstoespraak van die 13de Rektor en Visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV)

Inhuldigingstoespraak van die 13de Rektor en Visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV)

(For the English version please scroll down)

Vir ’n tyd soos hierdie

Jonathan D Jansen

Ter ere van adv. Bram Fischer

Inleiding

Welkom, welkom, welkom. Ek het gedink dit sou nooit gebeur nie. Trouens, baie van julle het vir my gesê dat dit nooit kan gebeur nie, as gevolg van my weiering om persone in magsposisies se guns te probeer wen. Dog hier is julle, party van ander lande af soos Chris en Lynette Abels van die Verenigde Koninkryk, Joel Samoff van die Universiteit van Stanford (Kalifornië), Josephine Allen van Cornell Universiteit (New York), en ongeveer die helfte van julle van die Wes-Kaap af. Hiermee alle buitelandse protokol afgehandel. Aan my Suid-Afrikaanse vriende van Indiese afkoms, welkom ook aan julle; julle mag oornag vertoef.

Baie dankie dat julle vanaand die Universiteit van die Vrystaat so kom vereer.

Ek word vanaand vergesel van twee hoërskoolleiers. Foster Lubbe was die eerste Vrystater wat aan my geskryf het, terwyl ek nog in Durban werksaam was, om my in die provinsie te verwelkom; hy is die volgende hoofseun van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. Portia Lehasa is die eerste swart hoofmeisie in 134 jaar van die befaamde Eunice Girls Secondary School, ook hier in Bloemfontein. Foster en Portia verteenwoordig ons toekoms as ʼn land; hulle herinner my aan my eerste liefde, skoolhou. En wanneer ek gaan sit en met hierdie twee jeugleiers gesels, raak ek uiters optimisties omtrent die toekoms van ons land.

Ek dra hierdie Inhuldigingstoespraak vanaand op aan waarskynlik die grootste seun van die Universiteit van die Vrystaat (’n regstudent alhier toe dit nog die Grey Universiteitskollege genoem is), die man wat die verdediging van Nelson Mandela gelei het, die patriot wat sy lewe opgeoffer het vir swart en wit Suid-Afrikaners, sodat ons almal vandag vry kan wees. Ek is daarom besonder verheug dat sy dogters Ruth en Ilse vanaand hier kan wees.

Ek oorhandig nou die oorspronklike weergawe van die Inhuldigingslesing aan die kinders van die grootste Kovsie van alle tye, Bram Fischer.

’n Plek soos hierdie

U is in die middel van Suid-Afrika. In ’n klein stadjie met ’n groot hart. In ’n plek waar die twee belangrikste nasionalistiese bewegings van die afgelope eeu, en moontlik selfs ’n derde (ons is nog nie seker nie) ontstaan het. Hierdie is ’n plek van kontraste, want die stad van rose (Bloemfontein) is ook die tuiste van die Cheetahs (Mangaung). Dit is ’n plek wat geboorte geskenk het aan die volledige spektrum van menswees, van JRR Tolkien, die skepper van die Hobbit, al die pad tot by Steve Hofmeyr, die skepper van, wel, baie dinge.

Dit is betekenisvol dat dit na die stad van Bloemfontein toe is wat die veroordeelde krimineel met sy laaste, desperate pleidooi kom, na die Hoogste Hof van Appèl. En so het ons almal vanaand hier bymekaar gekom met ’n pleidooi vir ons universiteit ’n pleidooi vir ons land, ’n pleidooi vir Afrika.

’n Tyd soos hierdie

’n Honderd-en-tien jaar gelede het ’n verskriklike tragedie in hierdie stad afgespeel wat die koers van die Suid-Afrikaanse geskiedenis sou verander. Die President van die Oranje-Vrystaat, MT Steyn, het die sogenaamde Bloemfontein-konferensie byeengeroep om die geskille tussen die Britse Hoë Kommissaris, Alfred Milner, en die Transvaalse President, Paul Kruger, te besleg insake kwessies wat onder andere die stemreg vir uitlanders en die gebruik van Engels in die Transvaalse Volksraad ingesluit het. Vir President Steyn was hierdie ’n laaste, desperate poging tot rekonsiliasie tussen wat “twee rasse” genoem is.

Die rekonsiliasie-samesprekings het gefaal, en ’n paar maande later het die Tweede Boereoorlog uitgebreek, wat meer as 26 000 persone se dood veroorsaak het: wit en swart, volwassenes en kinders. Die onvermoë om op so ’n kritieke tyd soos daardie versoening te bewerkstellig, het tot vandag toe nog letsels op die Suid-Afrikaanse politieke psige gelaat. En ek twyfel geensins dat die enkele, belangrikste rede vir die mislukking van die Bloemfontein-konferensie ten diepste mislukte leierskap was.

Ons staan vanaand voor ’n ander kritieke tydperk in ons geskiedenis. Wie sou kon dink dat, skaars ’n dekade na die wonderwerk van ons oorgang ons nog sou praat van “minderhede” in ’n demokrasie gebaseer op die beginsels van nierassigheid? Wie sou kon dink dat die aanstelling van mense in Mandela se land beheers sou word deur daardie berekende frase, “die demografie van die land”? En wie sou die kaalvuisgeweld kon voorspel wat wit boere op hulle grond en buitelandse burgers op ons strate doodmaak, of dat die armste van swart landsburgers neergevel sou word deur die rassehaat van ’n 18-jarige wit seun wat nog skaars die skool verlaat het?

Suid-Afrika staar vandag dit wat John Samuels ons “onafgehandelde sake” noem, in die gesig. Ons universiteit staan ook voor afgehandelde sake, so laat my sommer dadelik daarby uitkom.

Die Universiteit van die Vrystaat is 105 jaar oud. In sy lang en trotse geskiedenis het hierdie instelling partye van die kranigste juriste (insluitend ons Voorsitter van die Raad, Regter Faan Hancke), onderwysers, mediese wetenskaplikes, argitekte, landbou-ekonome, digters, musici, skrywers en verpleegkundiges opgelewer. Die universiteit het ook sommige van ons vooraanstaande sportpersoonlikhede opgelewer, insluitend die ongelooflik talentvolle Springbokflank Heinrich Brüssow en ons atletieksensasie, Boy Soke met sy nasionale kleure in baan- en veldnommers, landloop en padwedlope.

Die boek oor Reitz word toegemaak

Maar hierdie geskiedenis, soos wat dit die geval is met alle Suid-Afrikaanse universiteite, is nie vlekloos nie.

Ongeveer 100 meter links vanwaar ek staan, is die beroemde Abraham Fischer-koshuis (wat met deernis Vishuis genoem word), vernoem na die vader van die jonger Fischer. Hierdie eeu-oue studentekoshuis is ’n lewendige getuienis van die trotse geskiedenis van die Universiteit van die Vrystaat Universiteit.

Ongeveer 100 meter direk agter my is die Reitz-kamerwonings, ’n berugte plek wat groot skande oor ons universiteit en ongekende verontwaardiging vir ons land ten gevolg gehad het toe die wêreld kon aanskou hoe vier jong mans vyf swart werkers op rassistiese wyse verneder het.

Oor die afgelope paar maande het ek die terrein van Reitz dikwels besoek in ’n poging om te probeer verstaan hoe so ’n gruweldaad op die terrein van ’n hoëronderwysinstelling gepleeg kon word. Ek glo dat ek nou by ’n deel van die antwoord uitgekom het, en dat daardie antwoord belangrike implikasies het vir hoe ons in die rigting van genesing, vergifnis en maatskaplike geregtigheid op ons kampus en in ons land  kan beweeg.

U sien, die grootste fout wat met die ontleding van Reitz gemaak word, is om die voorval in terme van ’n individuele patologie te verduidelik. Dog, om die video as ’n produk van vier vrot appels af te maak) is ‘n te eenvoudige verklaring. Hierdie video-opname is voorafgegaan deur ’n lang reeks van rassevoorvalle uit protes teen rasse-integrasie, veral in die koshuise van die universiteit. Nie al hierdie ras-belaaide insidente het die pers gehaal nie; trouens, was dit nie vir die openbare vrystelling van die video-opname nie, sou niemand buite die universiteit daarvan geweet het nie. Verder besef baie min persone buite die kampus dat, wat nou as ’n aanstootlike video-opname beskou word, inderwaarheid ’n toekenning van die koshuis vir  die inhoud daarvan ontvang het.

Die vraag waarvoor ons gevolglik te staan kom, is ’n ontstellende een, en dit is die volgende: Wat was dit binne die instelling wat dit moontlik gemaak het vir so ’n gruweldaad om in die eerste plek gepleeg te word?

En dan is daar ook ander vrae. Waarom is dit dat die een na die ander ouer en kollega vir my kom vertel het dat die insident, en ek haal aan, “buite verhouding opgeblaas is”? Waarom is dit dat soveel volwassenes vir my kom vertel het dat dit Oros, en nie urine was nie, so asof dit van belang was in die gesimuleerde aksie van seuns wat in kos urineer? Wat moet ek maak van die talle afvaardigings na my kantoor om my in kennis te kom stel dat die seuns, en ek haal weer aan, “baie lief was vir die squeezas en vir hulle kos van hulle ouers se plase af gebring het?”

Wanneer die fokus van ontleding verskuif vanaf daardie individuele patologie tot een van institusionele kultuur, raak dit duidelik dat die Reitz-probleem nie bloot ’n probleem rondom vier rasgekwelde studente is nie. Dit is sonder twyfel ’n probleem van institusionele kompleksiteit.

Om hierdie rede is dit ook duidelik dat die meer diepgaande kwessies van rassisme en skynheiligheid wat ons universiteit – en talle ander – teister, nie in die howe uitgeklaar sal word nie. Wie ook al in die Reitz-saak gaan wen of verloor, ek gaan nog steeds op ’n Maandagoggend wakker word en dieselfde sosiale, kulturele en ideologiese kompleksiteite moet hanteer wat in die pad van transformasie staan – tensy ons iets anders gaan doen (meer daaromtrent oor ’n minuut of twee).

Erkenning

Ek is onlosmaaklik deel van die Universiteit van die Vrystaat, en daarom vra ek u vanaand om ons te vergewe vir wat ons gedoen het. Ek vra vir elke swart persoon op hierdie kampus en in hierdie provinsie om verskoning vir ons lang geskiedenis van uitsluiting en marginalisering van swart mense binne hierdie instansie. Ek het talle nagte in trane van verwyt deurgebring oor wat ons (ja, ons) die vyf swart werkers van die Universiteit van die Vrystaat aangedoen het. Hierdie instansie smeek u opreg om verskoning.

Ek vra elke ordentlike wit burger van ons universiteit om verskoning dat u deur die Reitz-insident in die skande gesteek is.  Ek weet dat te veel van julle persoonlik ’n gevoel van skuld en spyt ervaar het, ook omdat ons instelling julle gefaal het.  Ek weet ook dat u dit wat die vier studente gedoen het persoonlik opgeneem het, en dat u die meedoënlose kritiek rondom witmense wat op die Reitz-voorval gevolg het, as kommentaar oor die groep ervaar.

Vanaand, as die hoof van hierdie instelling, vra ek u om verskoning.

Ek vra om verskoning ter nagedagtenis aan Bram Fischer, die patriot wat ons gewaarsku het dat afsonderlike leefwyse kollektiewe trauma teweeg sou bring. Ek vra vir Sheila Aronstam en Kalie Strydom, wat lank voordat dit mode geword het, die Raad van die Universiteit gedruk het om hierdie kosbare instansie te transformeer toe dit gewoon nog nie gereed was om dit te doen nie. Ek vra my voorgangers, professors François Retief, Stef Coetzee en Frederick Fourie om verskoning – want julle het op julle eie manier gevra vir die transformasie van Kovsies, soms ten koste van julle persoonlik en julle gesinne.

Ek voel ook verplig om die volgende vanaand vir julle te sê. Daardie vier studente wat daardie verfoeilike daad gepleeg het, is my studente.  As julle my sal toelaat om van ’n ander leier te leen; ek kan hulle dit nie enigsins meer ontneem as wat ek dit nie my eie kinders kan ontneem nie.  Die vier Reitz-studente is kinders van hierdie land, hulle is die jeug van die provinsie, en hulle is studente van ons universiteit. Hulle is, ek herhaal, my studente.

Daarom het ek ʼn paar besluite geneem.

1. In ’n gebaar van rasseversoening, en die behoefte aan genesing, sal die Universiteit van die Vrystaat sy eie klagtes teen die vier studente terugtrek. Die Universiteit sal daarom glad nie verder teen die vier jong mans wat in die Reitz-insident geïmpliseer is, optree nie. In hierdie gees van toenadering sal die Universiteit verder gaan en hierdie vier studente terug nooi om hulle studies hier te kom voortsit.

2. In erkenning van ons institusionele medepligtigheid aan die Reitz-sage, en die behoefte aan sosiale geregtigheid, sal die Universiteit nie net vergifnis nastreef nie, maar ook skadevergoeding aan die betrokke werkers betaal in kompensasie vir die skade wat aan hulle waardigheid en hulle selfrespek berokken is.

Verder,

3. In ’n besliste verbintenis tot die dringende kwessie van rekonstruksie, sal die Universiteit van die Vrystaat die Reitz-koshuis heropen en transformeer tot ’n model van ras-rekonsiliasie en sosiale geregtigheid vir alle studente.

Die boek oor die toekoms word oopgemaak

Soos wat ons daarna streef om die boek oor Reitz toe te maak, so is ons vasberade om die boek oor ’n nuwe en gerekonstrueerde toekoms vir die Universiteit van die Vrystaat oop te maak. Ons sal deur twee doelwitte gedryf word.

Eerstens sal die universiteit ’n plek word wat die studie en praktyk van rekonsiliasie, vergifnis en sosiale geregtigheid verbeeld. Navorsers en studente van regoor die wêreld sal na die universiteit toe wil stroom om te kom studeer en om die teorie en praktyk te leer verstaan oor hoe om ’n gemeenskap nie alleen oor die skeidslyn van ras op te bou nie, maar ook oor dié van godsdiens, geslag, (nie/)gestremdheid, nasionale afkoms en, danksy Atletiek Suid-Afrika, seksuele identiteit.

In hierdie verband sal die Universiteit spoedig dit wat ons hoop om Die Reitz-Instituut vir Studie in Ras, Rekonsiliasie en Sosiale Geregtigheid te noem, bekend te stel.

Tweedens sal die universiteit baie vinnig moet beweeg om ’n nasionale en inderdaad internasionale sentrum vir akademiese uitnemendheid te word.  Terwyl die UV uitstekende programme in vakgebiede soos chemie, landbou en geneeskunde het, is ons akuut bewus van die behoefte daaraan om die akademiese standaard van ’n belowende instelling dramaties op te gradeer.

Laat ek duidelik hieromtrent wees, naamlik dat die UV onbeskaamd elitisties gaan wees in sy strewe om ’n Afrika-universiteit te word wat onmiddellik herkenbaar sal wees vir sy uitnemendheid rakende navorsing, onderrig en, wat my voorganger so treffend “navorsingsbetrokkenheid” genoem het, in verhouding tot die gemeenskappe rondom ons.

’n Universiteit is nie ’n welsynsorganisasie nie. Dit is nie ’n VOO-kollege nie. Dit is nie ’n reuse kompensasieprogram vir studente wat oor die matriekeindstreep gekruip het en nou daarom aandring om vir ’n graad in te skryf nie.

’n Universiteit is ’n hoëronderwysinstelling wat die beste beskikbare talent van ’n nasie en daarbuite moet dien. Met hierdie doel in gedagte gaan ons slegs die beste wit en die beste swart studente en akademici vir die Universiteit van die Vrystaat werf.

Leer om te dien

Geen Suid-Afrikaanse universiteit kan egter bekostig om te sit en wag vir studente om aan die einde van graad 12 op te daag, om net dan vir hulle te moet meedeel dat hulle nie goed genoeg is nie; dit sal wreed en onregverdig wees teenoor kinders wat deur die skoolsisteem in die steek gelaat is. As gevolg van ons geskiedenis het die universiteit ’n  verantwoordelikheid om met die mees benadeelde skole in ons land in die laer grade saam te werk om veral eerstegenerasie studente voor te berei om suksesvol te wees in hulle aansoek om toelating en vordering deur die universiteit.

In hierdie verband sal die UV met benadeelde hoërskole saamwerk, beginnende in plattelandse provinsies soos die Vrystaat en Noordkaap, om jongmense vir universiteit gereed te maak met behulp van somer- en winterskole op ons drie kampusse, waar hulle in biblioteke, laboratoriums en lesinglokale sal leer hoe om hulle voor te berei vir sukses in hulle universiteitstudie. Die vernaamste dryfkrag van ons gemeenskapsbetrokkenheid as ’n universiteit sal met behulp van ’n grootskaalse universiteit-skool-vennootskap in arm gemeenskappe plaasvind.

Billikheid betreffende personeel

Die universiteit is tans steeds, wat sy kader van navorsers betref, grotendeels wit en manlik, veral wat die professorskorps betref. Hierdie saak sal vinnig verander, nie slegs ter wille van billikheid nie, maar ook as ’n saak van uitnemendheid. Ons kan nie en sal nie ’n universiteit met akademiese aansien in die wêreld word as ons vanuit so ’n beperkte poel van beskikbare akademiese talent put nie.

Van volgende week af gaan ons derhalwe in die ope media 25 senior professorale poste adverteer wat slegs die kundigste en mees diverse poel van akademici na die UV gaan lok. Die UV gaan so vinnig as moontlik die aangesig van sy akademiese personeel transformeer, en ons gaan dit doen sonder om gedwing te word om die vals keuse tussen uitnemendheid en billikheid te maak.

Veelbewoë kennis

Die werklike probleem met transformasie is egter nie bloot die aantal swart gesigte tussen die personeel en in die studenteliggame van ’n voormalige wit universiteit nie. Die belangrikste uitdaging is die probleem van kennis. Die dikwels veelbewoë kennis waarmee die student universiteit toe kom – kennis van die verlede, kennis van swart en wit en, veral, kennis van die toekoms. Die universiteitskurrikulum, hier en elders, het nog nie voor die kritieke vraag aangespreek van wat ’n student in ’n  gevaarlike en verdeelde wêreld behoort te weet nie.

Daarom wil ek aan die Senaat van die Universiteit van die Vrystaat voorstel dat ons ’n  grondige kurrikulumhersiening moet doen en dat geen student aan hierdie universiteit ’n  graad mag behaal sonder om te besin oor die basiese vraagstukke van die mensdom nie, soos wie ons is en waar ons vandaan kom nie; sonder om te leer hoe om saam te leef en te studeer op wyses wat ons jeug voorberei vir leierskap in die werkplek nie.

Te veel van ons universiteite lewer jong mense op wat te vroeg in hulle dissiplines spesialiseer en nie oor daardie breër basis van onderrig beskik wat hulle voorberei om mense met empatie, kritiese landsburgers en etiese leiers in hulle dissipline en professie te wees nie. ’n Graad alleen is nie genoeg nie, en die Universiteit van die Vrystaat gaan ’n innoverende en eiesoortige voorgraadse kurrikulum ontwerp wat die huidige kennisvraagstuk in die Suid-Afrikaanse hoëronderwys sal aanspreek.

Wat ons vir ons studente gaan leer, is nie net hoe om hulle vaardighede te gebruik nie, maar hoe om van hulself in diens aan gemeenskappe te gee. Ek gaan vir my personeel vra om deur hulle voorbeeld te lei, en ek is bly dat ek die eerste stap kon neem om my salaris aan die universiteit terug te gee en te vra dat hulle ’n persentasie daarvan terughou om sowel ’n arm wit student as ’n arm swart student te borg; al wat hierdie twee studente in gemeen moet hê, is finansiële nood.

Subkulture van bespotting

Daar bestaan egter nog skadelike kulture nalatenskappe wat diep in die institusionele struktuur van ons universiteit verweef lê, en wat ek die afgelope 12 weke in my werk teëgekom het. Daar is die probleem van kleinsieligheid onder voorgraadse studente wat die universiteit beskou as ’n ononderbroke verlengstuk van die hoërskool met outoritêre rituele wat elders aangeleer is. Daar is die probleem van alkoholmisbruik in veral die manskoshuise, ’n praktyk wat sonder uitsondering die rassisme en seksisme ontketen waarmee medestudente geteister word. Daar is die probleem van ontgroening, waardeur senior roetinegewys eerstejaarstudente verneder en verkleineer, geïnspireer deur ’n militarisme wat tot ’n ander tyd en plek behoort.

Saam maak hierdie koshuisgebruike ’n kragtige subkultuur van die universiteit uit wat die plofbare geweld voortbring wat elke nou en dan in die openbare oog uitbars.

As ’n student van institusionele kulture, weet ek dat sodanige gevestigde praktyke nie maklik verander nie. Maar as ’n kenner op die gebied van institusionele verandering weet ek egter ook dat hierdie negatiewe kulturele praktyke onwrikbaar deur besliste optrede afgetakel kan word. Ten opsigte hiervan, die volgende besluite:

  1. Die praktyk van ontgroening is onwettig. Enige senior student wat aan ’n  eerstejaarstudent raak, sal nie net voor ’n  dissiplinêre komitee van die universiteit gedaag word nie, maar sal kriminele vervolging in die hof op ’n klag van aanranding in die gesig staar.
  2. Die praktyk van alkoholgebruik in koshuise kom met die aanvang van die nuwe akademiese jaar tot ’n einde. Die universiteit is nie ʼn kroeg nie; dit is ’n  plek van hoër onderrig. Ons taak is nie om alkoholiste te produseer nie; ons taak is om leiers vir die 21ste eeu op te lewer.
  3. Die sinnelose rituele wat eerstejaarstudente soos kinders behandel en seniors as ouers beskou, sal vervang word deur die geleidelik opbou van ’n nuwe institusionele en koshuiskultuur. Ons het reeds begin met die intensiewe opleiding van die nuwe studenteleierskap van die Studenteraad en van die 23 koshuise. Ons gaan in 2010 die eerste groep eerstejaarstudente by ’n program van oorsese studie betrek. Ons gaan ook alle eerstejaars toegang tot elektroniese netwerke gee om hulle studie te verryk en te verdiep.

Ons studente gaan geleer word hoe om saam te studeer en saam te woon. Ons koshuise gaan gevolglik vanaf Januarie 2010 op ’n 50/50-basis geïntegreer word, beginnende met die eerstejaarstudente en die studenteleierskap in koshuise. Geen swart of wit student sal oorheers nie, tot en met sodanige tyd as wat sosiale en fisiese integrasie so natuurlik as moontlik kan gebeur. Ek verkeer egter onder geen illusie nie dat, indien aan hulleself oorgelaat, studente hulle weer volgens kulturele groepe sal hergroepeer; iets wat 15 jaar op die pad van ’n nierassige demokrasie onaanvaarbaar is.

Waarvoor staan u?

By ’n universiteit met meer as 27 000 studente, drie kampusse en ’n geskiedenis van 100 jaar is daar baie om te doen, en laat my daarom toe om slegs vyf ander sleutelkwessies te noem.

  1. Ek is ten diepste daartoe verbind om die sosiale, intellektuele, hulpbron- en kulturele gaping wat daar tussen ons Hoofkampus en die Qwaqwa- en Suidkampusse bestaan te verwyder. Veral die Qwaqwa-kampus moenie ’n plek word wat deur konstante  onvergenoegdheid en geykte klagtes gekenmerk word nie, maar ’n akademies lewendige kampus wat goed opgeleide studente oplewer wat die armoede van daardie streek van die Vrystaat kan help aanspreek.
  2. Ek is ten diepste verbind tot die bevordering van Afrikaans en Sotho by die Universiteit van die Vrystaat. Talle van u het my al gevra om in die naam van pragmatisme weg te doen met Afrikaans. Laat ek dit duidelik stel: dit sal wat my betref nie gebeur vir solank as wat ek my pos beklee nie. Ons sal die geskiedenis van hierdie instelling en sy stigtingstaal respekteer. Eerder as om weg te doen met tale, behoort ons meer tale aan te gryp. In 2010 wil ek ’n gesprek aan die gang sit oor wyses waarop ons elke wit student kan kry om Sotho of Tswana aan te leer, asook elke swart student om Afrikaans aan te leer, en al ons studente om te leer om Engels behoorlik te lees en te skryf.
  3. Ek is ten diepste verbind tot personeel en studente met gestremdhede se welsyn en sal alles in my vermoë doen om toegang tot geboue en fasiliteite, asook tot leer en onderrig te verhaas. Die maatstaf van ons humaniteit as ’n universiteit moet die wyse wees waarop ons blinde, dowe, en fisies gestremde personeel en studente bystaan en vooruit te laat gaan.
  4. Ek is ten diepste verbind tot die internasionalisering van ons kampus, asook dat ons die aantal besoekende personeel en studente afkomstig van alle vastelande by die UV moet verdriedubbel.  ’n Universiteit wat sy naam waardig is, floreer op die universaliteit van idees en mense wat voortspruit uit die oor-en-weer stroom van internasionale navorsers en studente op sy kampusse.
  5. Ek is ten diepste daartoe verbind om die stryd teen MIV en VIGS op ons kampus te lei, en om simpatie te betoon en hulp te verleen aan alle personeel en studente wat deur die virus geïnfekteer is en geraak word.

Ten slotte

Ek staan vanaand hier voor u as die leier van hierdie uitnemende universiteit as ’n persoon wat swak, weerloos en baie bewus is van my eie gebrokenheid.  Ek is nie sonder die letsels van die lang skaduwee van ons verdeelde geskiedenis nie. Nogtans verklaar ek vanaand met vrymoedigheid dat ek in staat is om te lei, omdat ek gelei word. Ek kan vergewe, want ek is vergewe.  Verder is ek daagliks bewus van die feit dat, wat ek ook al bereik het, of nog gaan bereik, as gevolg van genade is.

Van genade, oftewel die Engelse Grace gepraat: ek sou nie vanaand hier kon wees as dit nie vir my vrou met daardie pragtige naam was nie. Ten spyte van haar eie professionele loopbaan in die gasvryheidsbedryf, het sy tydens my lang periodes van afwesigheid as konsultant, administrateur en nou as Visekanselier die gesin bymekaar gehou. Sy is my beste kritikus en kameraad, en ek dank Grace vanaand daarvoor.

Ek word geïnspireer deur my twee wonderlike en ordentlike kinders. My knap seun Mikhail, wat met sy nagraadse studie in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria besig is, en my skrander dogter Sara-Jane wat volgende jaar met haar voorgraadse studie in maatskaplike werk hier aan die Universiteit van die Vrystaat gaan begin. Alhoewel hulle albei in ’n ander land gebore is, is hulle ten volle toegewy aan Suid-Afrika, ook om nie selfsugtige lewens te lei nie, maar persone in nood te dien. Baie dankie, albei van julle, vir julle ondersteuning.

Ek weet vanwaar ek kom

Ek mis vanaand my ouers, wat albei al oorlede is, by hierdie luisterryke aand.  Hulle sou trots gewees het. My moeder sou, tipies, min gesê het by so ’n geleentheid, maar haar oë sou geswem het in trane van vreugde.  My vader sou ook geglimlag het, en dan gou bygevoeg het: “Daar’s nog ruimte vir verbetering.”

Aan u almal, baie, baie dankie vir julle ondersteuning.

Dié wat my finansieel as voorgraadse student ondersteun het; dié wat my aangemoedig het om nie op te skop nadat ek my eerste jaar op universiteit gedruip het nie; dié wat die risiko aanvaar het om ’n Visekanselier aan te stel met ’n  neiging tot onafhanklike denke; en daardie wat my opgeroep het tot nasionale diens terwyl mindere politici ineengekrimp het by die gedagte daaraan om ’n openbare kritikus in te bring. Dankie.

Ek weet dat ek nie alleen is nie

Baie gou na my aanstelling het ek ’n e-pos van my vriend Chris Abels ontvang. Dit het ’n Bybelvers uit die boek Ester 4:14 bevat. Ek het dit aanvanklik geïgnoreer, maar sedertdien het daardie woorde vir my baie betekenis begin kry. “Is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie wat jy na die koninkryk toe gekom het?”

Ek weet dat ek hier moet wees,

tydens so ’n kritieke tyd in die geskiedenis van ons universiteit en ons land. Want as ons dit kan regkry om dit hier, in die hart van die land, reg te kry, mag ons as Suid-Afrikaners dalk net in staat wees om uiteindelik al ons spoke te ruste te lê (Ramphele).

Laastens,

Baie van julle het my die afgelope maande gevra waarom ek na die Vrystaat van alle plekke wou kom.

Wel, ’n week gelede het een van ons eerstejaarstudente op ’n straathoek gestaan om geld vir liefdadigheid in te samel. Saam met haar Joolmaats het sy met haar blikkie langs ʼn motorvenster by die rooi robot gestaan. ’n Dronk bestuurder het oor die rooi lig gejaag en haar been afgeruk. Ek het hierdie week langs haar bed gestaan en haar vreugde, haar optimisme en haar menslikheid was ongelooflik. Toe ek omdraai om te gaan, het Hanjé Pistorius my hand gegryp en die volgende gesê: “Professor, ek is jammer dat ek nie kan opstaan om u te groet nie.”

Dit is hoekom ek hier is.

Daarom aanvaar ek die uitdaging wat u my bied met nederigheid en beslistheid.