Gebruik bandwydte suinig

Liberty Life

DAAR is ’n geweldige toename in internetgebruikers in Suid-Afrika. Indien jy ’n onderneming besit en jy het nie ’n webblad nie, moet jy dalk jou strategie heroorweeg.

Met die toename vra mense my bykans elke dag dieselfde vraag: Wanneer gebruik ek van my internet-bandwydte? Of my gunsteling: “Ek het net op die internet “gesurf” vir twee dae en video’s en foto’s gekyk, ek het niks op die rekenaar “gesave” of uitgedruk nie, maar my bandwydte is amper klaar.”
My antwoord is die volgende: Indien jy iets op jou rekenaarskerm kan sien, is dit reeds afgelaai op jou rekenaar, jy het dus reeds van jou bandwydte gebruik. Of jy dit dan druk of nie, maak nie saak nie, jy het steeds die bandwydte gebruik. Ek kan dit soos volg verduidelik. Jy laat bou ’n swembad by jou huis. Dit is nog leeg en jy besef dat jy water moet laat inloop indien jy wil swem. Die oomblik dat jy begin om water te laat inloop, is dit soos om te “surf” op die internet. Jy het dalk nog nie geswem nie, maar jy kan al die water sien.

Jy laat loop jou swembad vol en dit lyk pragtig, maar dis te koud om te swem. Jy kan al die water sien en jy kan voel dit is koud.

Met ander woorde, die oomblik wat die data, webblad, video, liedjie of e-pos op jou rekenaar gelees kan word, beteken dit dat die data afgelaai is van die internet en dit nou op jou skerm vertoon word.
Om dit daar te kry moet dit afgelaai word.

Die meeste webbladsye is gelukkig ongelooflik klein en sal nie baie van jou bandwydte gebruik nie, maar hoe meer bladsye jy besoek, hoe meer bandwydte gebruik jy. Dit geld ook die aflaai van videos en e-pos-aanhangsels.

Ek weet dit is ’n groot verrassing vir baie mense en ek is jammer om die slegte nuus oor te dra, maar gebruik jou bandwydte oordeelkundig.