Gaan kry ‘n eBoek

eBoek-lesers of “tablets” is ideaal vir die lees van boeke. Dit is deesdae nie meer nodig om stapels boeke in jou huis te laat stof opgaar nie. Ek verhuis binnekort en ek moet sê dat die helfte van alles wat getrek moet word, basies uit bokse vol boeke bestaan.

Ek is baie lief vir boeke, die tekstuur en die reuk van ’n nuwe boek kan nie sommer vervang word nie, maar gerieflikheidshalwe en om ’n paar bome te red, sal ek verseker die boeke wat ek net koop om vinnig te lees met elektroniese weergawes vervang.

Daar is ’n groot getal nuwe eBoek-lesers beskikbaar op die mark en daar is werklik een wat almal se sak sal pas, jy moet net rondkyk. Die belangrikste ding is dat jy groot getalle boeke op hierdie lesers kan stoor en sonder om baie spasie te vat, altyd jou boeke by jou kan hou vir ingeval jy ’n kans kry om ’n stukkie te lees.

Hierdie is natuurlik ’n ideale geskenk vir ouer mense wat reeds afgetree het, en ek sê dit net omdat ek die afgelope ruk gereeld gehoor het dat van my vriende vir hul oumas, oupas en familie wat reeds afgetree het, van hierdie lesers wil koop en dan vir my raad gevra het. In daardie stadium kon ek nie baie Afrikaanse boeke opspoor wat op hierdie tablette gelees kan word nie, maar ek is baie bly om te kan sê dat ek wel nou gesien het dat Leserskring baie eBoeke op die web beskibaar gemaak het.

Ek is ook seker dat die pryse van hierdie boeke mettertyd en soos hul gewildheid toeneem, sal daal sodat dit almal se sakke sal pas.

Besoek www.leserskring.co.za en kyk bietjie rond. Maak net seker dat jou leser die boeke wat jy koop, kan vertoon.