Bfn-webontwerpers beïndruk

 

Win a trip to Mauritius

DIE afgelope naweek het ek ’n openbaring beleef. Aan die einde van Oktober kom Rowan Polovin van myvideo.co.za hier in Bloemfontein ’n werksessie aanbied oor hoe om op die web ’n onderneming te vestig en ’n goeie inkomste te verseker.

Ek het besef dit is die ideale werksessie vir almal wat webbladsye in Bloemfontein ontwikkel. Ek besluit toe om ’n paar uur te bestee en op die web na ontwerpers in Bloemfontein te soek. Ek het verwag om dalk ’n handjievol te kry, maar groot was my verbasing toe ek nie minder nie as 20 webontwerpers opspoor.

Ek kon dit nie glo nie. Vir my was dit ’n warm gevoel toe ek van die bladsye besoek en vind die ontwerpers van Bloemfontein het nie nodig om vir enigiemand terug te staan nie. Omtrent 90% van die webontwerpers in Bloemfontein se bladsye is nie net indrukwekkend nie, maar is ook funksioneel en voldoen werklik aan die huidige neigings wêreldwyd.

Ek meen die plaaslike pryse is dalk nog ’n bietjie hoog en dat baie van die ontwerpers vereis jy moet jou webblad op hul servers stoor. Ek stem glad nie daarmee saam nie. Die rede hiervoor is omdat baie ontwerpers dieselfde produk herhaaldelik verkoop en nie wil hê iemand moet dit namaak nie. Ek verstaan dit ook, want ek skep self webbladsye, maar indien ek betaling ontvang daarvoor, is dit die eiendom van die een wat daarvoor betaal het.

Dit is regtig al probleem wat ek met van die plaaslike ontwerpers het. Die gehalte van die werk wat ek gesien het, is na my mening werklik van ’n internasionale standaard.

Indien jy enigsins daaraan dink om ’n webblad te ontwerp wil ek jou vra om beslis eers ’n ontwerper in Bloemfontein te kontak. Die werk van die gemeenskap sal jou voorwaar beïndruk.